Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 30 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat ons die afsterwe van die volgende radioamateurs moet aankondig:

Lawrence Delport, ZS6LAW, in die ouderdom van 89 jaar op 24 Maart na ‘n lang siekbed. Lawrence was ‘n SARL-lid totdat hy ongeveer 6 jaar gelede na die VSA verhuis het. Hy laat sy eggenote Joy, 4 seuns en 3 dogters na.

Mac, ZS6MAC, se sleutel het op Dinsdag 1 April stil geraak nadat hy ‘n aantal weke gelede deur beroerte getref is, waarvan hy nooit werklik herstel het nie.

Fred Aust, ZS6MRA, is op Woensdag 2 April op sy verjaardag na ‘n kort siekbed oorlede.

Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die afgestorwenes.

(POUSE)

In vandag se SARLNuus:

SARL SE NASIONALE KONVENSIE MOET NIE MISGELOOP WORD NIE

GASHEERAANBIEDINGS VIR DIE VOLGENDE NASIONALE KONVENSIE INGEWAG

WAAROM IS ONS SO TRAAG OM ONS PRESTEERDERS VIR ‘N TOEKENNING TE BENOEM?

BEREI VOOR VIR WęRELDAMATEURRADIODAG OP 18 APRIL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL SE NASIONALE KONVENSIE MOET NIE MISGELOOP WORD NIE

Die konvensie van die SARL vanaf Vrydag 11 April tot Sondag 13 April in Bloemfontein is ‘n gebeurtenis wat nie misgeloop moet word nie. Indien jy nognie vir die naweek bespreek het nie, doen dit onverwyld; more is die laaste dag. Besoek www.sarl.org.za vir die volledige program en besprekingsvorm sowel as ‘n lys van B&B-voorsieners.

Daar sal ‘n bywoningspryskompetisie wees waarin ‘n Yaesu VX-120 tweemeter handdraagstel gewen kan word. Die prys is geskenk deur AES (Amateur Electronic Supplies).

Indien jy nie kan deelneem nie, magtig iemand anders om namens jou te stem. Die vorm kan van die webwerf van die SARL afgelaai word en moet aan die SARL-kantoor gefaks word voor kantoorsluiting op Donderdag 10 April of tydens registrasie vir die AJV ingehandig word.

Die besigheidsgedeelte van die AJV sal lewendig uitgesaai word op 145,750 MHz in Pretoria, 7 082 and 14 150 kHz en oudio sal ook via die webwerf en Echolink beskikbaar wees. Vir oudio via die web, besoek www.sarl.org.za, klik op “publications”, kies ARMI en die “web cast”-opsie.

GASHEERAANBIEDINGS VIR DIE VOLGENDE NASIONALE KONVENSIE INGEWAG

Klubs word uitgenooi om ‘n bod in te dien om gasheer te wees vir die 2009 nasionale konvensie waarvoor die voorgestelde datum 18 April is. Hierdie datum sal tydens die AJV volgende naweek bevestig word. Tradisioneel wissel die vergaderplek tussen ‘n plek in Gauteng en ‘n ander een in die land. Dit is egter nie ‘n vaste reel nie. Indien ‘n bod van klubs in die skone Kaap ontvang word, sal niemand seker objekteer nie. Berei asb. u bod voor, en dit sal onder algemene sake bespreek word.

SLUITINGSDATUM VIR DIE RAE EN EKSAMENSENTRUMS

Die volgende radioamateureksamens sal op 15 Mei 2008 afgeneem word. Die sluitingsdatum vir registrasie van eksamensentrums en inskrywings vir die aflę van eksamens is 10 April 2008. Laatinskrywings sal nie aanvaar word nie en aansoeke wat na 10 April vir die eksamen in Mei ontvang word, sal oorgehou word vir die eksamen in Oktober.

Die inskrywingsfooi vir beide die eksamens vir Klas A en Klas B is R300 maar vir studente onder 25 jaar is dit R200.

Volledige besonderhede en inskrywingsvorms is op die webwerf beskikbaar. Dit is belangrik om die instruksies noukeurig te volg ten einde vertragings met registrasie te vermy. Besoek www.sarl.org.za, klik op “licensing” en kies Radioamateureksamens.

Klubs wat eksamensentrums reel moet vir elke eksamen herregistreer en daarvoor is die sluitingsdatum ook 10 April.

PRESIDENTSNET

Die volgende Presidentsnet sal om 19:00 op Sondag 20 April ‘n aanvang neem. Integnet sal eers weer in Mei ‘n aanvang neem. Luister gereeld na SARLnuus vir besonderhede.

WAAROM IS ONS SO TRAAG OM ONS PRESTEERDERS VIR ‘N TOEKENNING TE BENOEM?

Die SA-Amateurradioontwikkelingstrust herhinner klubs en individuele radioamateurs om te dink wie in hulle gemeenskap ‘n toekenning vir die promovering of ontwikkeling van amateurradio toekom. Die Trust wag nominasies vir die drie toekennings in wat deur Nokia Siemens Netwerke geborg word.

Die toekennings is:

Garth Milne Tegniese Innovasietoekenning. Dit word toegeken vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegnologiese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger sal ‘n persoon wees wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal, in skole of tersiere opvoedingsinrigtings bevorder het.

NSN-Radioamateur van die Jaar. Hierdie toekenning is vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, nie vir individuele prestasies soos DXCC of ander bedryfsprestasies of kompetisies nie. Die ontvanger sal ‘n persoon wees wat sy of haar kundigheid en tyd gewy het aan die bevordering van amateurradio in Suid-Afrika.

NSN-Amateurradiogemeenskapsdienstoekenning. Jaarliks word erkenning verleen aan ‘n radioamateur of ‘n groep radioamateurs vir diens wat aan ‘n gemeenskap gelewer is. Dit kan insluit ondersteuning aan ‘n gestremde radioamateur, die verlening van kommunikasiediens tydens ‘n sportbyeenkoms of ‘n ramp soos ‘n oorstroming, veldbrande of ‘n aardbewing.

Nominasies word ingewag vir ‘n individu of ‘n groep van persone soos ‘n radioklub of ‘n vereniging.

Volledige besonderhede en nominasievorms is beskikbaar van www.amateurradio.org.za. Sluit asb. soveel besonderhede as moontlik in die nominasies in aangesien die beoordelaars slegs die geskrewe nominasie voor hulle het waarvolgens besluite geneem kan word. Die sluitingsdatum is 19 April 2008.

BEREI VOOR VIR WęRELDAMATEURRADIODAG OP 18 APRIL

(Gedeeltelik uit die ARRL-nuusbrief)

Elke jaar op die herdenking van die stigting op 18 April van die Internasionale Amateurradio-unie word Węreldamateurradiodag gevier. Op vanjaar se 83ste herdenking van sy stigtingsvergadering in Parys, wy die IARU aan die toekoms van amateurradio met die tema “Amateurradio: ‘n Fondament vir Tegniese Kennis”.

Dit is geen geheim nie dat baie professionele mense in die veld van radio, TV, kommunikasie en elektronika hul tegniese studie as jong radioamateurs begin het en dit kan steeds as ‘n unieke aantrekkingskrag dien vir toekomstige jong radioamateurs.

Węreldamateurradiodag bied ‘n unieke geleentheid om amateurradio te adverteer en te bevorder, dus is dit ‘n goeie idee om op Vrydag die 18de jou handdraagstel na jou werk te neem en te demonstreer hoe kommunikasie deur herhalers bedryf word. Dit sal ook die geleentheid bied om jou kollegas te vertel van die gemeenskapsdiens wat deur amateurradio verrig word tydens gebeure soos byeenkomste, maratons, vloede, vure ens. Gedurende rampe faal kragdistribusie- en telefoonstelsels dikwels en amateurradio het altyd in die verlede tot redding gekom deur kommunikasie te verskaf aangesien dit onafhanklik draagbaar of mobiel bedryf kan word. Klubs of individue kan ook spesiale stasies op publieke plekke oprig. SA AMSAT sal ook tydens hulle konvensie op 19 April aan die verrigtinge deelneem.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Met die afwesigheid van Hannes Coetzee rapporteer ZS6AKV dat geomagnetiese toestande tans stil is. Die vooruitsig is dat ‘n koronale gat besig is om in ‘n geo-effektiewe posisie te roteer. Lokale HF-toestande dui op meesal onstabiele tot swak toestande. Die aktiewe areas op die son het reeds ‘n M-klas fakkel voortgebring en daar is steeds ‘n geringe moontlikheid vir die voorkoms van C-klas fakkels.

M-klas fakkels is van mediumgrootte; hulle kan kortstondige radiouitwissing veroorsaak wat die aarde se poolgebiede affekteer. Kleinere uitstralingstorms volg somtyds na ‘n M-klas fakkel. In vergelyking met X- en M-klas gebeurtenisse is C-klas fakkels klein met min merkbare gevolge hier op aarde.

Daar is geen sigbare sonvlekke nie.

40 m behoort redelike landswye dekking te bied gedurende die dagligure met 80 m wat na sononder tot sy reg kom.

Aangaande DX mag daar laat namiddag ‘n opening na die VSA se ooskus wees op 15 m en Lateraan op 20 m. 20 m mag ook laat namiddag DX na die weskus toelaat. Laat namiddag mag daar kort openinge tot 10 m na Europa wees wat vinnig na 15 m en dan na 20 m verskuif.

Vroegoggend mag daar openinge na Australië wees. In die algemeen sal toestande onstabiel wees, dus is die beste advies luister, roep CQ en jy mag verras word.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

6 April - Sluitingsdatum vir bywoningsbesprekings vir die SARL se AJV;
10 April – Laaste dag om eksamensentrums te registreer en ook vir inskrywings vir die RAE in Mei;
11 tot 13 April - SARL AJV in Bloemfontein;
12 April - Kemptonpark AmateurRadio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE-kursus;
15 April - Overberg ARK AJV;
18 April – Wereldamateurradiodag;
19 April - SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie; Magalies ARK Snuffelmark en sluitingsdatum vir toekennings deur die SA-Amateurradioontwikkelingstrust en sluitingsdatum vir Nokia Siemens Netwerk Toekennings.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003